Lees meer oor die ryk geskiedenis van Hoërskool Wesvalia, die skool se “Waarom en Hoekom” en ontmoet ons skoolhoofde. Hierdie bladsy beklemtoon die waardes en doelwitte wat die skool nastreef.

In die sonskyn van die Verre Wes-Transvaal. Uit sy aarde, diep en ryk; Tussen mynhoop en die lande wuiwend groen het gegroei: WESVALIA !!!

Vandat mnr. W. R. Hindley as waarnemende hoof die sleutels van die administratiewe deel op 29 November 1974 in ontvangs geneem het – is die woorde van die skoollied: “Wesvalia het gegroei“ bevestig.

Die verhaal van ons groei is ‘n mooi verhaal vol glinsterende hoogtepunte. Die skool het op 6 Januarie 1975 vir die personeel geopen en aanvanklik bekend as Derde Afrikaans medium Hoërskool. Die skool het op 8 Januarie 1975 sy eerste leerlinge ontvang.

Jan Carl Hindley was die eerste ingeskrewe leerling en daar is afgeskop met vyf st.6- en vier st. 7 – klasse, met 232 leerlinge. Die skoolrooster was reeds deur die hoof opgestel toe die skool begin het en handboeke en skrifte was beskikbaar. Binne twee dae het die klasse gewissel.

Alles klink so maklik, maar in hierdie eerste akademiese jaar moes die grondslag gelê word vir die skool se karakter en dit het harde spanwerk en toewyding gevra. Gelukkig was daar die inisiatief, dryfkrag en deursettingsvermoë van die hoof, die steun van ‘n eerste skoolkomitee onder voorsitterskap van ds. J.I. Roux.

Op 27 Februarie 1975 is besluit op die mooi bruin skooldrag. Die skool het sy leuse: WERK, WAARHEID , WYSHEID gekry met die oog daarop om ‘n duidelike koers vir die toekoms aan te dui en op 25 Februarie 1976 laat weet die Transvaalse Onderwys departement dat hierdie liggaam die voorgestelde naam, WESVALIA, goedgekeur het.

Die skool se wapen word op 22 September van dieselfde jaar goedgekeur en op 10 November 1976 aanvaar, die skoollied is geskryf deur mnr. P.J. Snyman en getoonset deur mnr. Johan van Rensburg. Op 22 Oktober 1976 onthul prof. J. H. Jooste, Direkteur van Onderwys, ‘n gedenkplaat tydens die amptelike ingebruikneming van die skool.

Die terrein was ru. Atletiekoefening kon wel op ‘n tydelike geskrapte BAAN plaasvind, maar die nuwe skool kon nie self byeenkomste aanbied nie. Die plaaslike stadsraad het grond geskenk vir die opvul van die turfgrond

Op 5 September 1975 plant mnre. W. Hindley en A. Fourie die eerste bome op ‘n terrein waar daar nie ‘n enkele boom was nie. Vroeg in 1976 kon die sportterrein gelyk gemaak word met die hulp van die Provinsiale Paaiedepartement, waarvoor die skool ‘n bedrag van R2 150 betaal het.

Op 11 Februarie kon die eerste atletiekoefening plaasgevind word om die BAAN in gebruik te neem. Die oprigting van die eerste gedeelte (van drie) van die pawiljoen is op 8 Maart 1979 deur Golden West Iron & Steel gedoen.

Geen sportsoort is afgeskeep nie. Rugbyvelde, hokkievelde, netbalbane en uiteindelik tennisbane is die een ná die ander voltooi. Op 2 Mei 1978 kon die eerste ligawedstryde teen Hoërskool Schoonspruit op ons eie bane plaasvind en op 13 Mei 1978 word die eerste rugbywedstryde hier teen Hoërskool Orkney gespeel.

Die grondslag is gelê vir die belowende toekoms wat die verwagtinge ver oortref het en wat duisende suksesvolle matrikulante en baie uitstaande prestasies deur die jare op gelewer het. Die skoolwapen word op 5 Julie 1976 deur die skoolkomitee goedgekeur. Die basiese ontwerp is gedoen deur mnr. J. Freysen (onderwyser aan die skool).

Die leuse: Werk, Waarheid, Wysheid – is aan die hand gedoen deur mnr. W.R. Hindley en mev. M.E. Buitendag.

Die leuse: Werk, Waarheid, Wysheid – is aan die hand gedoen
deur mnr. W.R. Hindley en mev. M.E. Buitendag.

Dit is met groot trots dat ek die webblad van ons geliefde skool aan jou bekendstel.

Die wapen van ons skool is ‘n simbool van ons identiteit en waardes. Dit verteenwoordig die vuur van die Heilige Gees wat in elke Wessie brand. Hierdie vuur is nie net ‘n teken van ons geloof nie, maar ook van ons krag, passie en vasberadenheid om in alles wat ons doen uit te blink.

Elke dag herinner die skoolwapen ons aan ons roeping om ’n lig te wees – nie net vir onsself nie, maar ook vir die gemeenskap om ons. Dit is ’n herinnering dat ons ’n jeug is wat met moed, liefde en toewyding na die toekoms kyk. Laat jou vlam brand – met geloof, hoop en die strewe na uitmuntendheid in alle aspekte van jou lewe.

By Wesvalia is ons trots op die pad wat ons saam stap. Ek nooi jou uit om jou vuur aan te steek en elke geleentheid ten volle te benut. Kom saam met ons op hierdie reis van groei en ontdekking.

Mag die vlam van die Heilige Gees jou lei en jou inspireer in alles wat jy onderneem.

Lourens vd Merwe
Hoof

HOEKOM: Elke Wessie se toekomsdroom word verseker deur deurlopende gehalte onderrig, afrigting en opvoedende ondersteuning.

HOE: Wesvalia skep kundigheid, vaardighede en verhoudings waardeur elke Wessie die hoogste pieke sal kan bereik deur ons hoë standaarde in: akademie, sport, kultuur, leierskapontwikkeling, sosiale vaardighede, ons omgee en ondersteuning aan al die Wessies, samewerking met betrokke, entoesiastiese ouers, die professionele aanbod van ambisieuse personeel, die voorsiening van puik fasiliteite, getrou te wees aan ons land en sy mense, ons taal en kultuur en ons Christen waardes.

By Hoërskool Wesvalia bied ons:

Akademiese, wetenskaplike en tegnologiese onderrig
Sport- en kultuurontwikkeling
Hoë standaarde in alles wat ons aanpak
Omgee vir mekaar
Oorspronklikheid
‘n Moderne, deursigtige skoolkultuur
Geleenthede aan elke leerder om sy/haar volle potensiaal te ontwikkel in ‘n gelukkige en veilige omgewing
Gebalanseerde skoollewe

Beskrywing van Hoërskool Wesvalia:

Christelike fondasie, Gelukkige leerders, Plek vir almal, Gebalanseerde skoollewe, Uitstaande sport, Puik akademie, Uitstaande kultuur, “Great” sosiale aksies, Goedopgeleide onderwysers, Goeie afrigters en Groot gees

In die sonskyn van die verre
Wes-Transvaal
Uit sy aarde diep en ryk:
Tussen mynhoop en die lande
wuiwend graan
Het gegroei: WESVALIA!
Hier werk en streef ons na n idiaal:
Die eer van onse Heer!
En as Sy seën op ons dade rus,
sal ons gedy en floreer!

Kom laat ons nou die stryd
blymoedig stry!

Ons is nooit, nee nooit alleen!
As ons werk en strewe na die hoë doel,
sal en moet ons triomfeer.
Deur arbeid word ons sterk en
taai gebrei.
Ons dien ons eie volk.
Kom met mekaar se hande stewig vas:

Ons gaan die toekoms in!

Koor:
kom skoliere van Wesvalia
laat ons die naam uitdra!
Werk, waarheid, wysheid is ons leuse

Ons gaan die toekoms in!

In die sonskyn van die verre Wes-Transvaal
Uit sy aarde diep en ryk:
Tussen mynhoop en die lande wuiwend graan
Het gegroei: WESVALIA!
Hier werk en streef ons na n idiaal:
Die eer van onse Heer!
En as Sy seën op ons dade rus,
sal ons gedy en floreer!

Kom laat ons nou die stryd blymoedig stry!

Ons is nooit, nee nooit alleen!
As ons werk en strewe na die hoë doel,
sal en moet ons triomfeer.
Deur arbeid word ons sterk en taai gebrei.
Ons dien ons eie volk.
Kom met mekaar se hande stewig vas:

Ons gaan die toekoms in!

Koor:
kom skoliere van Wesvalia
laat ons die naam uitdra!
Werk, waarheid, wysheid is ons leuse

Ons gaan die toekoms in!

Die nuwe skoolhoof van Hoërskool Wesvalia, op die ouderdom van 46 jaar, bring ‘n rykdom van ervaring en ‘n hart vol passie na ons gemeenskap. Groot geword in Pretoria en het sy hoër onderwys graad in Bloemfontein voltooi,

Sy lewe word gekenmerk deur ‘n diep liefde vir kinders, sy familie, insluitend sy pitboele en katte, en ‘n reeks stokperdjies wat muurbal, tuinmaak, en rugby insluit.

Dit is sy onwrikbare passie vir sy werk en die begeerte om ‘n positiewe impak op die lewens van jong mense te maak, wat hom elke oggend motiveer.

Hy beplan om ‘n omgewing te skep waar elke leerder se geluk en sukses voorop staan, en waar fasiliteite beskikbaar gestel word sodat geen kind met ambisie agterbly nie. Met hierdie visie is Hoërskool Wesvalia op die regte pad na ‘n blink toekoms onder sy leierskap.

Eerste Skoolhoof:

W.R. Hindley – 1975–1990

Tweede Skoolhoof:

S.F. Marais – 1992–1996

Derde Skoolhoof:

G.K. Keyter – 1997–2005

Vierde Skoolhoof:

Dr Frik Steenkamp – 2006-2023

Vyfde Skoolhoof

L.W van der Merwe 2023

+27 18 468 1023/4

+27 18 468 6792

Kontak ons: bemarking@wesvalia.co.za

Praat met ons/Klagtelyn: gabri@agmtn.co.za

H/v Readman en Scottstraat, Wilkoppies, Klerksdorp

Privaatsak X8, Klerksdorp, Flamwood, 257

Proudly designed by Kri8 MediaHouse | 2024